Community Chest help ook nood verlig

Die kospakkies word voorberei by die sentrums waar dit afgehaal word deur NGO's en hulporganisasies.

LEDE van die Community Chest het 'n besige week gehad deur 2000 bokse kospakkies aan behoeftige gemeenskappe uit te deel.

Deur hul uitgebreide NGO-netwerke is meer as 10 000 mense bereik.

Community Chest het begin deur eers higiënepakkies aan gemeenskappe te versprei, maar dit is later uitgebrei om kospakkies ook in te sluit.

Onder die gemeenskapsorganisasies wie baat vind by die kospakkies was Kaapstad se medisyne-beradingsentum, Equilibrium-sentrum, TLC Outreach Projects, Hanover Park-krieketklub, Suid-Afrikaanse onderwys en omgewingsprojek en Learning In Reach.

Elke Community Chest kospakkie bevat kos ter waarde van R400, wat ’n gesin van vyf, vir ’n maand sal kan help.

Onder die kositems is rys, pasta, melk, blikkiesvis, vrugte en groente.

Desiré Goliath, woordvoerder van die Community Chest, sê: "Met die ekstra druk weens die vertraagde uitbetalings aan maatskaplike-toelae in Mei-maand, plaas dit 'n ekstra las op gemeenskappe.

"Die Community Chest sal ook saam werk met ander vennote om die voedselverligting in die lockdown-tydperk voort te sit."